Meer oor ons...
Algemeen
Die Sentrum vir Aktepraktyk is die grootste private verskaffer van opleiding in akte- en notariële praktyk in Suid-Afrika. Dit is ‘n onderneming van Gawie le Roux, ‘n prokureur, transportbesorger, entrepreneur en sakeman van Pretoria.
Geskiedenis
Die Sentrum vir Aktepraktyk het ontstaan uit die sukses wat Gawie met sy unieke Selfstudie Aktekursus sedert 1994 behaal het. Die Sentrum vir Aktepraktyk en die Selfstudie Aktekursus is suster-entiteite wat elkeen sy eie unieke teikenmark het. Kollektief vind alle bemarking en aanbieding van kursusse onder die handelsnaam van die Sentrum vir Aktepraktyk plaas.
Selfstudie Aktekursus
Die Selfstudie Aktekursus BK is in 1994 gestig om die heel eerste en enigste selfstudie aktekursus op die Suid-Afrikaanse mark te plaas. Die doel was om ‘n omvattende stel notas beskikbaar te stel waarmee ‘n persoon op sy eie vir die eksamen in transportbesorging kon voorberei. Van meet af aan was dit ‘n sukses. Binne ses maande nadat die eerste Afrikaanse stel notas verkoop is, is ‘n Engelse weergawe beskikbaar gestel. Sedertdien het ons (Selfstudie & Sentrum) gegroei tot die enigste tweetalige en grootste private opleidingsinstelling op die gebied van aktes in Suid-Afrika.
Sentrum vir Aktepraktyk
Die Sentrum vir Aktepraktyk (Edms) Bpk is in 1999 in die lewe geroep om aan die toenemende behoefte vir die bywoning van klasse te voorsien. Sedertdien bied ons klasse in akte- en notariële praktyk aan prokureurs, kandidaat-prokureurs en ander kwalifiserende persone wat graag studiebegeleiding deur middel van lesings wil ontvang.
‘n Unieke kursus is vir aktetiksters ontwerp wat sedert 1999 in Afrikaans en 2003 in Engels aangebied word. Ons kursus in Notariële Praktyk is in 2007 bekendgestel en geskoei op dieselfde wenresep as dié van die kursus in aktepraktyk. Die aanlynwerkswinkels is vanaf 2009 ‘n verdere uitbreiding van ons dinamiese onderrigmetodes. Sedert 2010 bied ons ook seminare oor nuwe wetgewing en registrateurskonfensiebesluite aan wat spesifiek op akte- en notariële praktyk ‘n invloed mag hê.
Personeel
Gawie le Roux
Gawie het sy loopbaan in 1981 by die Departement van Justisie as staatsaanklaer begin. Daarna was hy vir ‘n kort tydperk verbonde aan die Departement van Buitelandse Sake (van 1983 tot 1984), waarna hy ‘n oorplasing gekry het na die wetgewing-afdeling van die Departement van Justisie se Hoofkantoor te Pretoria (van 1985 tot 1990). Vanaf 1991 tot 1995 was hy aan die kantoor van die Staatsprokureur te Pretoria verbonde.
Op 1 Oktober 1995 het hy vir sy eie rekening as prokureur begin praktiseer. Sedert 2000 het Gawie hom in alle erns op opleiding begin toespits en is nou feitlik voluit daarmee besig. Hierbenewens het Gawie ‘n lewendige belangstelling in eiendom en is hy voortdurend op die uitkyk na geleenthede en tendense in die eiendomsmark.
Erinda Frantzen
Erinda is ‘n prokureur, transportbesorger en notaris. Sy het in 2006 by ons as dosent aangesluit.
Sy bied die Bywoningskursus in Aktepraktyk in sommige stede aan, al die Bywoningskursusse in Notariële Praktyk en sommige van die Tiksterskursusse.
Sy help met die opdatering van al die kursusse en is veral verantwoordelik vir die gereelde ontwikkeling van die tiksterskursusse en die bedryf van die aanlynwerkswinkels.
Administratiewe span
Ons kantoor se administratiewe span word gelei deur Anneke van der Vyver wat ook ons boekhoudster is. Hierbenewens is Anneke verantwoordelik vir die proeflees van ons bemarkingsmateriaal, bemarking van ons seminare, die instandhouding en ontwikkeling van ons databasis, en sorg sy dat ons webwerwe aan die hoogste standaarde van grafiese ontwerp, spoed en algemene funksionaliteit voldoen. Sy behartig ook die vliegtuig- en motorbesprekings van Gawie en al ons gassprekers.
Sy word bygestaan deur Annemarie Westcott wat ons vernaamste skakelpersoon met kliënte is en ook vir die registrasies van al ons seminare verantwoordelik is. Annemarie behartig al die naamlyste, reël dat die lokale vir al ons seminare op die verskillende plekke beskikbaar is, sorg vir die korrekte opstelling van die lokale, klank en visuele toerusting, en sien toe dat almal hulle seminaarnotas ontvang.
Sy word weer bygestaan deur Rebekah Vuthela, ons bekwame ontvangsdame, wat meeste van die telefoniese navrae hanteer en ook verantwoordelik is dat daar genoeg voorraad van al die notas beskikbaar is.

