Gawie le Roux oor Koopooreenkomste

    Praktiese toepassing: Die voetstootsklousule

    Agtergrond

    • Meer as 80% van eiendomme wat in Suid-Afrika verkoop word, is 
      gebruikte eiendomme,
    • wat transaksies tussen privaat individue verteenwoordig,
    • wat nie aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming onderhewig is nie, wat beteken dat
    • die meeste verkopers steeds op die beskerming van die voetstootsbeding 
      geregtig is.

    Ongelukkig word baie verkopers van hulle gemeenregtelike reg om op hierdie broodnodige beskerming teen verborge gebreke te reken, ontneem deur swak opgestelde ooreenkomste van eiendomsagente en die sogenaamde "property condition report" wat daaraan geheg word. Die voetstootsbeding bestaan nie in isolasie nie. Dit is ’n baie ou gemeenregtelike "teenmiddel" waarvan die enigste doel is om die uitwerking van die gemeenregtelike waarborg van ’n verkoper teen verborge gebreke in die verkoopte eiendom teen te werk.

    Swak opstelwerk

    Koopooreenkomste word deur eiendomspraktisyns of selfs leke opgestel telkens wanneer onroerende eiendom van eienaar verwissel. Maar, te oordeel aan die groot hoeveelheid hofsake wat elke jaar in Suid-Afrika oor koopooreenkomste beslis word, is daar aansienlike tekortkominge in sommige ooreenkomste wat vir klein en groot transaksies deur sowel professionele as leke-persone opgestel word.

    Inhoud & doel

    Die inhoud van die handleiding is gebaseer op die gemeenregtelike beginsels waar op die voetstootsklousule berus, soos meer onlangs deur ons howe ontwikkel en bevestig.

    Die oogmerk van hierdie handleiding is om aan persone wat gereeld met die opstel, interpretasie en uitvoering van ooreenkomste te doene het, met die nodige teoretiese en praktiese kennis toe te rus ten einde hulle in staat te stel om beter koopooreenkomste op te stel.